Watervolk

Nkulunkulu, Jou mooi aarde
is stilweg besig om te sterf.

Die gras gesels nie, die wild trek weg,
die slang vergeet sy vel in die gras.

Droogte haat kinders, hy eet hulle op;
die mans hou ons vroue met bok-oë dop

as ons boombas kook vir sop
of kalbasse dra wat sug vir biesmelk.

(Die kind wat nie hardop huil nie verwelk
in die bobbejaanpels op sy ma se rug.)

Bedags kom rooimier en saans muskiet.
Doer by die drinkgat langs fluitjiesriet

loer 'n dorre stomp hoe ons nader loop –
sy neus het twee gate soos 'n miershoop.

Nkulunkulu, kan Jy hoor hoe ons roep
met arms na Jou berg gestrek?

Verjaag vir sprinkaan, verwilder vlakvark
met spies en horing uit ons koringland weg.

Gryp vir weerlig aan sy gloeiblou stert,
swaai hom oor krans en barre weiveld.

Laat water spat en water stroom
oor die kop van die swarthaakboom.

Nou maak Nkulunkulu 'n groot boog –
'n reuse bont slang van vlakte tot berg

met kleure wat kaats oor vlerk en vin
tot binne-in die slykpadda-oog.

Slang seil oor kleeftoon van klein akkedis,
toe leeuwyf dit sien is sy diep ontstel.

Sy gryp haar welpie aan die nekvel,
sy vlug oor boom en riffelkrokodil.

Ons watervolk lag dat ons mae pyn,
ons kén mos die slang wat reëntyd verskyn.

Ons weet nou's ons kans om vloere te smeer
met geurige mis en gladde varkvet.

Dis tyd dat die mispels dragtig raak
vir ons en die platpens likkewaan.
Ons kook die skilpad in sy pynappeldop,
roer die amasi en rook bossiegoed.

Ons vroue pak kos in mandjies van riet
vir die manne wat wildeperd skiet:

hingsvelle sigsag swart en wit
oor die grasheuwels waar hulle jag.

Nkulunkulu, Jy woon kop in die blou,
Jou oë 'n vry arend wat ons dophou.

Noudat die manne die kraaltjie verlaat
kan ons vroue 'n slag weer buite bad.

Tekst Carina Stander
 
Facebook!

facebookyou-tubetwitter

          Herman Woltman | gsm 06 835 99 121 | herman@souldada.nl